Eie verslaggewer
KARIEGA – Die inwoners van die Kamesh-area, wat woonbuurte soos Rosedale, Charles Smith, Blikkiesdorp, en Langa insluit, is keelvol vir misdaad en het ‘n reuse-optog beplan om hul stemme dik te maak.
In ‘n video wat Maandagaand die rondte gedoen het, het mnr. Georgen Gastuv Miggels die gemeenskap ingelig oor die planne. Hy het gesê ‘n “multi-stakeholders” vergadering is gehou waar ‘n besluit geneem is om ‘n anti-misdaad optog te hou.
Die groot optog is beplan vir Maandag, 18 Augustus. Volgens Miggels is die doel om ‘n “total shutdown” in die area te hê. Skole, besighede en selfs die taxi’s sal na verwagting stilstaan terwyl die gemeenskap in hul massas optrek. Die beplanners is reeds in gesprek met die Taxi-assosiasie om te verseker dat taxi’s daardie dag nie ry nie.
Die optog sal uitloop op die oorhandiging van ‘n petisie aan verskeie hoë amptenare, onder andere:
Die Minister van Polisie, Die LUR van Veiligheid en Sekuriteit, Die Provinsiale Kommissaris van Polisie, Die Burgemeester en Die Premier.
Miggels het in die video beklemtoon dat die petisie die amptenare sal versoek om die gemeenskap te besoek en die misdaadsituasie self te kom aanpak. Hy het gesê dit is onaanvaarbaar dat kinders en ouer mense in vrees moet lewe.
‘n Petisie sal beskikbaar wees vir ondertekening by plekke soos die beplanningskantoor, skole, sportsale, en raadslede se kantore.
Die gemeenskap sal ook in die aanloop tot die optog geestelik voorberei met ‘n agt-dag lange gebedsessie wat op Sondag, 10 Augustus, begin.
“Ons is nie in ‘n geveg teen gangsters nie, ons petisie die regering,” het Miggels gesê en ‘n beroep op alle inwoners gedoen om deel te neem.
No Comments Yet...